Pablo Software Solutions
Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.
Deon Hugo-Reeks :Website Builder
1-Op die Drumpel :2-Gaudeamus Igitur :3-die Werkende Jongmens
Web Title

s die derde kind van drie, is jy só gewoond dat die meeste van dit wat jy onvang, veral boeke, is al "sat" gebruik deur die ander twee. Maar nie hierdie reeks nie...

Dit wil vir my voorkom dat die boekie-reeks op 'n verkeerde tyd met die regte bedoelings aangekoop was:

  • Sus wat die oudste is, was weg in Potchefstroom, besig om te swot.
  • 'n Jaar na die ontvangs van die boekies is my broer oorlede in die weermag.
  • Die grootste ontwrigting in my skoolloopbaan - van een-skool-na-die-ander omdat omies met dik brilletjies nie 'n besluit kon maak of die kind prakties of akademis aangelê is nie...

Met die oopmaakslag van die boekies het ek onmiddelik die reuk gekry van die huis in Jordaanstraat: Die gangkas met al die komberse en lakens; die boekrak in An se kamer met die bootstelletjie wat hy self gebou het en die beechie boksies teen die muur en die stickers netjies in 'n omslag op die vakkies bo-op die lessenaar wat pa vir hom gemaak het van yster; die tier teen die muur met die pienk kolletjie waar An hom geskiet het met die daisy...

Sus se kamer met die lang regop spieël (wat nou in pa se kamer is by die oue-te-huis), die bed met die donker-blou deken (waarvan ek 'n gordyn gemaak het en nou nog gebruik); die boekrakkie met die 3-uittrek laaitjies (wat nou in ons sitkamer is); en die drie hondjies (of bokkies) wat bo-op staan (Nou in ons eetkamervenster)....

Ek sien die kombuis, gedeeltelik plankvloer en waar die koolstoof gestaan het (later vervang met gas en toe elektries) met sement, die zink in die hoek en die kassies wat voor die venster staan (nou by oom Frikkie op die plaas), die kas waar al ma se koppies en pierings was, met die laai waarin die suiker gebêre was (nou by sus), die tafel wat ma-hulle gekry het as trou geskenk (by tannie Mie) en die lang wit kas (in ons kombuis)...

Die eetkamer met die swarthout stel (by sus en Carin), die katjie-mat teen die muur (in ons sitkamer), die vertoonkas (by ons) met al die klein fieterjasies en An se weermag herinneringe (nou met myne ook), die groot blou mat op die plankvloer. Die kopervaas (by sus) op die klein inmekaar-pas-tafeljie (by sus) en die seuntjie-met-die-hasies wat ma uitgewerk het (by pa) en Albertyn se skildery (by pa)....o ja, die klavier is ook by sus wat net duskant die dubbeldeur gestaan het....

Die dubbelbed waarop ma-hulle geslaap het, wat hule gekoop het in 1947, dié slaap ons nou op (met 'n nuwe matras!), haar spieëkas (by ons) met die bypassende stoeltjie. Die hangkaste (by Carin) en die klein bedtafeljies (by sus).

In die sitkamer sien en hoor ek nog die grammafoon wat jy eers moet los om warm te word voordat iets gehoor kan word (by oom Hannes op die plaas), met die twee wieg-stoele by die deur (by sus) met die twee grys stoele waarop pa se pa gesit het met my op sy knieë (1963), staan by ons in die sitkamer met die oorspronklike kussings en oortreksels; die olifanttafeltjie (by my) en die fotos op die grammefoon (by my).

Herinneringe bring 'n traan of twee want dit is verby, vergete in die verlede met stof vergader.... en die boekies op die boekrak teen die muur in die eetkamer, daar waar ma al haar naaimasjien boekies gesit het, langs die naaimasjien wat sy met haar voet gewerk het. (het nog steeds die blikkie met die olie-kannetjie en kwassie en die voetjie in)

Ek dink terug aan die nagte wat ons die Kennis leggers aanmekaar gesit het, stiptelik gekoop vir 2c per eksemplaar en die hele reeks is nou by ons (16 boeke altesaam) in die oorspronklike rooi omslae. Ek sien die naartjie boom waaronder ek karretjies gespeel het, met die wasgoedlyne net langs die muur en pa se kanaries in die hok in die hoek.

As die gedagtes so rondspeel in die verlede wonder ek tog soms wat het ek oorgehou daarvan? Wat kan ek vandag wys wat in my brein rondsluier en sloer...

In die jaar 2008 word hierdie boekies, sekerlik nie vir die eerste keer nie, oopgemaak en al die herinneringe, die mense wat nie meer daar is nie, wat deel van my gewees het daardie jare, spoel by my verby: Ma, An, ouma Nellie, oom Hendrik, tant Tokkie, tant Annie Beyl....

Drie boekies wat drie-en-dertig jaar se lewe voor my laat afspeel in 'n oogwink. Pyn, hartseer, verlange, vreugde, leuens en fondamente lê, waardes bou en afbreek, geloof ontdek en wegdruk.... en nou is hulle hier vir almal om te sien.

Ouers doen soms so veel vir hulle kinders, en dié waardeer dit nie altyd nie. Eers wanneer hulle nie maar daar is nie....

a4Y

NOTA:

Al die oorspronklike skuins skrif het ek ge-"bold" omdat dit die oorspronklike bedoeling was om die klem daarop te lê.

Waar opskrifte in sekere gedeeltes voorkom, is die "font" grootte verander.

 

Laaste keer geredigeer: 2008 / Geplaas: 31 Maart 2017