021 - 024
HOOFSTUK II BETEKENISVOLLE SWITSERLAND
WAT gebied en bevolking betref, is Switserland onbelangrik. Hierdie klein landjie, omring deur Frankryk, Oostenryk, Italië en Duitsland, bevat net die helfte van die bevolking van groter Londen.
Om verskeie redes het ek hierdie hoofstuk die opskrif, „ Betekenisvolle Switserland" gegee.
Driemiljoen Switsers is Duits-sprekend; eenmiljoen praat Frans en 'n half-miljoen Italiaans. Wat bind dan die Switsers saam? Liefde vir hul land en liefde vir vryheid.
Daar is 'n Switserse spreekwoord wat sê, „ elke burger van Switserland sal vry wees om te doen wat hy wil, en sal elke ander burger toelaat om te doen wat hý wil; maar selfs hierdie reël moenie 'n verpligting vir enige burger wees nie!"
Vir eeue lank het Switserland sy vryheid teen diegene wat hom wou verslaaf, verdedig. Die bergagtige geaardheid van die land het die verdedigers gehelp. Watter pragtige berge! En watter skone mere! Switserland is tog seker een van die skoonste lande in die wêreld!
Switserland was altoos 'n toevlugsoord. Godsdienstige en politieke vlugtelinge het dikwels hier 'n skuilplek gevind. Selfs Lenin het hierdie land gekies en in Bern planne gemaak om die Russiese Regering omver te werp. En baie, baie godsdienstige vlugtelinge het hul in die land van Kalvyn gevestig.
Daar is in Switserland 1,640,000 Rooms-Katolieke (41 per sent), onder wie baie min werk gedoen word. In die stede is baie van die priesters skynbaar baie godsdienstig, maar in die plekke waar hulle g'n mededingers het nie, is die toestande net so erg as in Spanje. Die Rooms-Katolieke maak sterk propaganda, veral onder Protestante, wat (weëns ultra-liberalisme) van die versekering van hul geloof beroof is.
Die Staatskerk in baie kantons is Hervormd, (Kalvinisties of Presbiteriaans), maar daar is groot behoefte onder sy aanhangers.
In Switserland kan 'n mens 'n groot aantal groepe vind wat die Evangelie trou verkondig en siele vir Christus wen. Konferensies, kampe, gebedskonvensies ens. . . . werk mee om die geestelike lewe instand te hou. Belangstelling in buitelandse Sendingwerk - 'n vertroubare barometer - word taamlik volgehou.
Die Liberale Teologie is sterk in baie van die kerke en skole, en in hierdie plekke word daar nie van bekering gepraat nie. Bybelstudie word dikwels verwaarloos, en baie mense word deur valse leringe verlei. Die Staatskerk vat gewoonlik sake te gemaklik op, wetende dat die Staat vir alle uitgawes verantwoordelik is.
Selfs die egte Christene is verdeeld (soos in Frankryk) weens denominasionale of persoonlike redes. Te dikwels, helaas, is hulle vas aan die slaap.
Maar ons kan God dank vir baie tekens van herlewing. Karl Barth se teologie het groot invloed, en mense word ook op ander maniere beweeg om vir seën te bid.
,, Switserland," om Revival in Europe aan te haal, ,, was so wonderlik geseën in die verlede dat sy verantwoordelikheid baie groot is, en niks behalwe 'n herlewing kan hom van oordeel red nie.,,
Betekenisvolle Switserland! 'n Herlewing in Switserland sou Frankryk, Duitsland en Italië - veral Duitsland - beïnvloed. **** Ek het in Switserland aangekom - soos gewoonlik, sonder vriende, vooruitsigte of geld. Ek het die nag in 'n hotel in Thun op die Thunersee deurgebring. Ek herinner my goed dat ek dié nag vir myself gesê het: „ As iets nie gou gebeur nie, wonder ek wat ek sal doen met hierdie paar stuiwers. Ek is byna platsak."
Iets het gebeur.
Revival in Europe het die adres van 'n sekere Doktor in Filosofie gegee - Mevr. Wasserzug. Ek het van hierdie vrome dame hoor praat in plekke ver van mekaar in Europa, dus het ek besluit om haar op te soek en myself voor te stel.
Gevolglik het ek een helder oggend in Beatenberg aangekom, 'n Alpe-dorp hoog in die berge. Eindelik het ek haar huis gevind.
„ Is Mevr. Wasserzug tuis?,, vra ek aan die dame wat die deur oopmaak. „ Ek is Mevr. Wasserzug," antwoord sy in Duits. Ek het rondgevoel vir 'n visitekaartjie. Voor sy dit kon gesien het, roep die dame uit: ,, Mnr. Orr! ,, Ja, ek is Edwin Orr. Maar hoe het u dit geweet?" ,, Wel, ek het u tweede boek pas ontvang van Ds. T. Gear Willet van die C.I.M. En 'n tyd gelede het hy my u eerste boek gestuur, dus het ek u van u foto herken. Welkom in ons huis! Kom tog binne!"
Mnr. Wasserzug is 'n afgetrede sendeling en Mevr. Wasserzug bring die grootste gedeelte van haar tyd deur in Bybelskool-, Konferensie- en Herlewingswerk, O, met hoeveel vriendelikheid het hulle en hulle vriende in Beatenberg my oorlaai! Die lug, kos en water was in sigself versterkmiddels; die gesprekke was intellektueel verkwikkend; die atmosfeer was een van toewyding en geesdrif; dit het dus my liggaam, verstand en gees goed gedoen juis op 'n tyd toe ek ontspanning nodig gehad het.
Die heel eerste dag is 'n vergadering gou gereël, en ons het bymekaar gekom in die voorvertrek van die Hotel Silberhorn. Daar het ons herlewing bespreek, en daar ook het volle oorgawes plaasgevind. Die volgende aand het ons saamgespan met die offisiere van die Interlaken-Heilsleër en 'n heerlike vergadering in die skoolhuis gehad. Dit was na die Christene hul terugval bely het en die volheid van die Gees begeer het, dat vier jongmense besluit het om Christus as hul Verlosser aan te neem. Nog laat die aand het die Heilsleër-Offisiere persoonlik aan hulle aandag gegee.
Al te gou het my besoek op 'n end gekom. Maar die Here het my op 'n taamlik vreemde wyse die nodige fondse gestuur om 'n endjie verder te reis. 'n Vriend van Mevr. Wasserzug het my uitgenooi om op die Sondag 'n vergadering in sy kerk toe te spreek. Ek het dus Saterdag in die ou stad van Aaron aangekom en in die Vry Hervormde Kerk gepraat. Pfarrer Gutcher, die pastor, is 'n vrome man wat vol verwagting is vir herlewing.
Ek wou na Praag gaan. Maar dit was 'n lang afstand deur drie lande, dus was ek in die twyfel wat om te doen. Op weg na die stasie het ek 'n koevert in my jassak gevind, dit oopgemaak en daarin 'n som geld gevind met die woorde, ,, aan liewe Mnr. Orr, vir sterk tee.,> Sonder twyfel iemand wat geweet het dat ek 'n ler is! In dele van die vasteland word 'n mens lig-gekdeurde water gegee wat deur die bewoners verkeerd tee genoem word. Hulle voorsien jou ook van 'n bekertjie warm water in geval dit te sterk is!
Op die stasie het 'n man met wie ek 'n paar uur te vore kennis gemaak het, my 'n kaartjie na Zurich oorhandig. Daarna het Pastor Gutcher opgedaag met 'n anonieme gif van geld. Dit was net genoeg om my na Praag te neem.
In die middel van die nag, terwyl ek geslaap het, het die trein oor die grens van Switserland gegaan.
Betekenisvolle Switserland! Die moontlikhede van 'n opwekking is geweldig.
|