007 - 020
hoofstuk i DIE PROBLEEM VAN FRANKRYK
„ Waar gaan jy heen hierna?"
„ Na Frankryk."
My vriend het geglimlag.
,, Gaan jy swem - of vlieg?"
„Vlieg!"
Op daardie oomblik was dit vir 'n grap bedoel; maar die suggestie het 'n reeks van gedagtes gewek. Om sekere sake te voltooi het ek gereël om in Londen te bly tot byna die end van die week. Vreemd genoeg, ek het die innerlike oortuiging gehad dat ek gedurende die komende naweek in Parys sou preek.
Tyd was kosbaar. Waarom nie vlieg nie?
Die eerste beswaar was gebrek aan fondse. Verder, „ Wat sou vriende sê?" Na ek daaroor gebid het, het ek 'n lugdiens-maatskappy opgebel, en ek was verras om te verneem dat hulle pryse omtrent tien sjielings hoër was as die spoorwegtarief plus maaltye. En ek sou 'n hele dag wen!
Die volgende dag het ek tee gedrink in 'n stadsklub met 'n goeie vriend, wat my die som waarom ek gebid het, oorhandig het. Maar die volgende oggend het ek 'n Christen ontmoet wat behoeftig was, en ek het my „ vliegtuig-fonds" ter wille van hom blymoedig beroof. Tot op die oggend van my vertrek was die geld nie aangevul nie. Maar ek was so oortuig van die Here se leiding dat ek weer opgebel het - hierdie keer om 'n plek te bespreek op die vliegmasjien.
Ek het middagete met lan Thomas en 'n ander vriend geniet. Ons het om twee-uur uitmekaar gegaan. Drie-uur het my in die private vertrek van 'n direkteur van my uitgewers gevind. Die lui van die huistelefoon het ons gesprek onderbreek.
,, Ja? Hy is hier. Goed - Mnr. Thomas wil u in die vertoonkamer sien, Mnr. Orr."
„ Ian Thomas? Hoe het hy geweet dat ek hier was?"
Ek het afgegaan om ondersoek in te stel.
„ Hello, Ian! Hoe het jy geweet dat ek hierheen sou kom?"
„ Ek het die Here se leiding gevra," het hy geantwoord met 'n laggie, en voortgegaan om te verduidelik.
Hy het die straat afgestap met my tweede boek onder die arm, toe 'n man hom skielik stop: „ Daardie teks, Beproef My Tog, was my tot groot seën."
En natuurlik het Mnr. Thomas hom vertel dat hy net die middagmaal geniet het met die boek se skrywer, wat op die punt staan om na Parys te vertrek.
„ Parys? " het die vreemdeling gesê. „ Ek werk in Parys."
Voor ek iets kon sê, het lan Thomas hom na 'n vreemdeling wat digby gestaan het, gekeer.
,, Hier is Mnr. Orr nou." Die vreemdeling het gebuig en my sy naam gesê.
Hy was 'n kolporteur.
„ Ek het u vriend gevra om my saam te bring, Mnr. Orr," sê hy, „ om aan te bied om u van diens te wees in Parys - u rond te neem, of u tolk te wees, of enigiets waarvan u sou hou."
„ Baie dankie!" - ek was taamlik verbluf.
„ Wanneer gaan u terug na Parys?"
„ Oor 'n dag of twee."
„ Maar," het ek verduidelik, „ ek sal daar wees voor u."
„ En u adres ? " vra hy.
„ O! Wel, - J. Edwin Orr, nêrens in besonder, Parys, voorheen van nêrens in Londen." Die kolporteur het gelag.
„ Maar ek wil u vind."
„ Goed," sê ek, „ Gee my u adres, asseblief, en ek sal u opbel voor ek Parys verlaat."
Ek het hom weer bedank en ons het uitmekaar gegaan.
Daardie aand het God weer die gebed verhoor, en ek het myself in besit van die reisgeld gevind. Aan 'n intieme vriend het ek my voorneme bekend gemaak om die volgende dag per vliegmasjien te vertrek.
„ Ek sê, ou kêrel, dink jy dit sal verstandig wees?
Ek bedoel, dink jy nie dat mense sal kritiseer nie?"
„ Waarskynlik," was my antwoord, „ maar dit sal nie die eerste keer wees nie."
„ Ek weet. Maar hulle kan die indruk kry dat jy sakke vol geld het."
„ Ons Vader het," sê ek, „ en ek voel dat dit Sy Wil is dat ek daarheen moet vlieg. Kyk hier, as ek in die diens van 'n Amerikaanse miljoenêr was, en dit was sy wens dat ek sou oorvlieg, en hy het daarvoor betaal, sou hulle dit kritiseer?"
„ Nee. Maar hoe weet jy dat God daarvoor sal betaal?"
„ Wel, het Hy my nie my reisgeld vanaand gestuur nie? En gaan ek nie Sondag in Parys preek nie?"
„ Maar hoe weet jy dat jy Sondag sal preek?"
„ Ek weet."
My vriend het dit opgegee.
Die volgende dag het ek my plek in die passassiersvliegtuig ingeneem. My gevoelens was inderdaad gemeng. Daar was die rilling van 'n nuwe ondervinding. Daar was ook die bewustheid dat ek na Frankryk vlieg met net vyf sjielings. Daar was twyfel - en daar was vertroue.
Met 'n skielike gedruis begin die skroef snel te draai. Ons gly langs die grond van die vliegveld, draai om en styg teen die wind op - eers 'n paar voet, dan oor die bome, hoër, nog hoër, nou oor 'n plaas, nog hoër, weer op, 'n duisend voet, tagtig myl per uur, dan negentig, dan 'n honderd - Nou vertrek ons!
* * * *
„Waarheen? Na Frankryk. Wat dan? Weet nie. Waar sal jy slaap? Weet nie. Preek? Weet nie. En nou is ons oor Londen. Goeie ou Londen!"
Ek let op dat die Franse dametjie vóór my Mon grand ami Shakespeare (My groot vriend, Shakespeare) lees. Die ander passasiers soek landtekens uit. Daardie lang kêrel daar voor is 'n Engelse burggraaf.
„ Waar is ons nou? Daar is die Theems. Ek wonder watter stad dit is. Dis Gravesend. Ja, daar is Echo Square - daar is die nuwe Kerk - daar is Will Hopkins se huis - en daar is sy kar daarbuite! Wonder wat hy sou sê as hy my nou kon sien?" Daar ek 'n teer plek in my hart het vir die Hopkins-familie, het ek verlangend neergekyk en die gelukkige familie aan die middagete voorgestel.
Gravesend verdwyn uit die skildery. Benede ons strek 'n wonderlike gesig - die velde van Kent wat presies op een van Moeder se lapwerkspreie lyk. Ek glimlag as ek dink aan wat Moeder sou sê as sy haar kind nou kon sien.
Ons nader die Suidkus. Benede lê die see. „ Wel, is hierdie vlieëry nou nie pragtig nie? " My gedagte gaan terug na die dag toe ek uit Birkenhead gefiets het met 2/8½d. om die wêreld te deurreis. Ek tel my kontantgeld.
„ H'm. Gedink ek het vyf sjielings; A! Hier is nog 'n sikspens. Moenie spandabel daarmee wees nie.
"Vir 'n halfuur jaag ons oor die Engelse Kanaal met 'n spoed van honderd-en-tien myl per uur. Die kus van Frankryk word sigbaar. Tien minute later is ons bo 'n ander lapwerksprei-vermoedelik Pikardië. Nou is ons bo 'n spoorweg. Nou lê 'n bos benede ons. Die Franse meisie sit haar Mon grand ami Shakespeare weg, haal haar poeierkwassakkie te voorskyn en poeier haar neus. Verspot!
Parys is op die horison - kom nader. Plotseling kom die masjien tot stilstand, en ons begin na benede te gly - af - af! Daar is die vliegveld van Le Bourget. ,, Hoop hy sal nie 'n boom raak nie.,>
Soos 'n seevoël op die see neerskiet, gly ons langsaam na benede. 'n Skielike gedruis van die masjien, en nou loop ons oor die gras. Ons hou stil. Ek klim die eerste uit, tydelik doof. „ Dit is dan Parys! " * * * * Om sesuur het ek my in die middel van die stad bevind. Ek het langsaam langs die Boulevard gestap, met die sorgvrye tred van een wat (letterlik) geen definitiewe program het vir die volgende twee maande nie.
„ Wel, ek het beloof om die hartlike groete van die Redakteur van. The Christian aan Mevr. Blocher by die , Tabernacle' oor te bring."
Ek het 'n huurmotor geneem en na Rue Belliard (Rue = straat) gery. Die bestuurder het my van vyftig per sent van my balans-in-hande bevry.
Mevr. Blocher en haar seun Jacques het my goed ontvang en aanstonds het ek met hulle die aandete gedeel en hulle gesprek geniet. Die telefoon het ons gesteur, en Mnr. Jacques het dit beantwoord. Hy het gou teruggekom.
„ Telefoon vir Mnr. Orr."
Ek het na hom gekyk om te sien of hy 'n grap maak.
„ Daar moet 'n fout wees," het ek gesê, „ U weet ek het g'n vriende in Parys nie, en niemand weet dat ek hier is nie."
Hy het gelag.
„ Wel, antwoord maar die telefoon."
Ek het dit gedoen. Dit was die Kolporteur uit Londen. Waarom hy my by Mevr. Blocher se huis opgebel het, is nog 'n vraag wat ek nie kan beantwoord nie en hy nie bevredigend kan verklaar nie. Dit was dus hierdie vriendelike kolporteur wat my rondom Parys geneem het, vir alles betaal het en baie kosbare tyd gespaar het.
Daardie aand het ek met Mnr. Jacques Blocher na 'n vergadering in Le Zone Noir (die Swart Gordel) gegaan. Dit was onvergeetlik. Ek het agterbuurtes in Warskau besoek in vergelyking waarmee die Oos-End van Londen daar fatsoenlik uitsien, maar die Swart Gordel van Parys is verreweg die ergste gesig wat ek al ooit gesien het. Sy oorsprong is eienaardig. Tientalle van jare gelede, het die militêre outoriteite beveel dat daar 'n gordel sonder enige blywende gebou rondom Parys (toe baie kleiner as nou) moes wees om vir verdedigingsdoeleindes gebruik te word. Die gevolg van die bevel was 'n gordel van onbeboude grond wat rondom die stad gestrek het.
Sedert die tyd het die stad verder en verder uitgebrei, totdat daar net soveel bewoners buite as binne was, en die onbeboude grond het spoedig die skuilplek van verstotelinge geword, wat daar in die somer geslaap het. Langsamerhand het hierdie arme skepsels tydelike beskuttings van ou hout, kiste en dergelike dinge begin optrek. Die „ zone militaire"(=die militêre gebied)- om dit sy offisiële titel te gee - het nou 'n bevolking van tien duisende, en almal woon in ellendige hutte, sonder beligting, sonder watervoorraad, sonder 'n rioelstelstel, sonder iets.
Terwyl Mnr. Blocher en ek ons weg langs die smalle paadjies gesoek het, het hy my meer omtrent die bewoners vertel. Daar was Pole, Spanjaarde, Algeriërs, Franse en alle soorte en klasse. Daar was diewe en moordenaars, sakkerollers en sluipmoordenaars. Maar die bejammerenswaardigste was die skares van klein kindertjies.
„ En waarom ruim die outoriteite die vuil plek nie weg nie?" vra u. Ek het dit ook gevra, maar het g'n bevredigende verklaring gekry nie. Offisieel bestaan die gordel nie as 'n bewoonde gebied nie. Die „ soniers " word net geïgnoreer. Keer op keer is hulle 'n verplasing na ander kwartiere beloof - maar hulle is nog daar. 'n Groot brand sou die beste wyse wees om die plek skoon te maak, maar dan sou daar die verantwoordelikheid wees om die tien duisende te verplaas en vir hulle voorsiening te maak.
Soos 'n mens sou verwag, is die Swart Gordel sterk Kommunisties. Ook geen wonder nie! Die samelewing beskou hierdie verstotelinge met veragting en die verstotelinge vergeld dit met haat. Polisie-agente durf nie alleen die gebied binnegaan nie.
,, Waarom loop ons dan langs die paadjies, en ons word deur manne en vroue begroet en die kinders gaan saam met ons?"
„ Hulle weet ons het hulle lief," het Mnr. Jacques gesê, „ en op hulle manier het hulle ons ook lief. In die begin het die kinders klippers gegooi, maar die Kommuniste (die mans) het hulle daaroor geknor.
Daar is geen vrees in die liefde nie, maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite.
Die ,, Tabernacle "-voorpos (saam met 'n ander klein onderneming) is die enigste poging om hierdie „ soniërs " vir Christus te wen. Ek het die klein saal binnegegaan en gewonder hoe die diens sou wees. 'n Paar in die „ gemeente" was 'n bietjie dronk en luidrugtig, maar hulle het nie gekom met die bedoeling om te steur nie. My hart het lekker gekry toe Jacques Blocher en twee maats 'n bekende wysie begin sing: „ Redites moi Thistoire de Tamour de Jesus. ..." (Bring my die oue tyding Die tyding van God's troon . . .)
„ God seën hulle in hul pogings," het ek gedink terwyl ek omkyk. Die man in die hoek was 'n moordenaar en die ander was almal skurke van verskillende tipes. En tog het ons almal daar saam gesing van die oue tyding van Jesus sê liefde.
Ek het nog nooit in my lewe sulke brokstukke van die mensheid gesien nie - vuil koppe, vol ongediertes; vuil klere, vol luise; dowwe oë, rooi van die drank; gebroke liggame, verwoes deur die sonde; en ons het hulle die oue tyding gebring van die krag van God om hulle te verlos. En ten spyte van hierdie verskriklike nadele is vier siele onlangs gered deur die ,, Tabernacle"-werk in hierdie gebied.
Goddank, toestande is anders in ander dele van Frankryk. Maar Frankryk is 'n groot probleem, soos almal wat weet sal saamstem. Uit 'n bevolking wat een-en-veertigmiljoen tel, is slegs 800,000 Protestante. Selfs nou Stuur Frankryk meer Rooms-Katolieke Sendelinge uit as enige ander land. Om die woorde van my vriend Mnr. Pache aan te haal (in die Revival in Europe-Bulletin):-
,, In sekere kringe is daar 'n sleg-ingeligte maar egte vorm van godsvrug, maar die meerderheid van die bevolking begin afkerig te word van die priesters en helaas! van alle godsdiens. In Parys besoek slegs twee tot drie per sent van die bevolking die Kerk, en in die hele land beoefen nie meer as vyf- of sesmiljoen min of meer hul godsdiens. Die soort Katolisisme wat ons in Frankryk vind is dié waaroor Rome meen dat hy heers. Dit wil sê, dit is nie ver van die heidendom nie en stem ooreen met wat by voorbeeld in Spanje kan gesien word. Selfs in Parys het die aanbidding van die Moeder Maria en van die heiliges Christus feitlik onttroon. Die bybel is byna onbekend, en daar is maar min wat werklik weet van die volle en vrye verlossing wat ons in Jesus Christus het. Die Kommuniste en die goddelose maak vooruitgang, en 'n baie groot persentasie van openbare onderwysers in die primêre skole is geaffilieër met kommunistiese vereniginge. Selfs die plattelandse bevolking word deur hierdie leringe beïnvloed, en dis 'n welbekende feit dat sedert die oorlog die meeste mans niks meer te doen wil hê met godsdiens nie. Dit is nie verrassend dat die morele standaard van vele so verskriklik laag is nie.
„ Tog word opregte harte orals gevind en sommige deure sou geopen word, veral in die provinsies. Maar dis hartverskeurend om te sien hoe weinig gedoen word vir die evangelisering van die mense. Uit die negentig departemente is daar ag-en-dertig wat gemiddeld slegs twee Protestantse werkers het. ('n Departement kan 200,000, tot 500,000 of meer bewoners hê). In die Oostelike voorstede van Parys, by voorbeeld, is daar vyf-en-twintig stede wat meer as 400,000 bewoners verteenwoordig wat sonder enige getuie vir Jesus is. Natuurlik is daar sommige getroue sendingorganisasies in Frankryk, en Protestantse Kerke doen sendingwerk, maar hulle is baie min en al hul pogings saam is net 'n druppel in die oseaan van vyf-en-dertig tot veertig-miljoen wat in geestelike duisternis lewe. As elke Protestant 'n sendeling sou word en die Evangelie bring aan, sê veertig mense, sou die grote taak volbring word.
„ As ons Frankryk wil evangeliseër, laat ons om 'n kragtige herlewing onder die Frans-sprekende Protestante bid. Tydens die Hervorming en gedurende die volgende eeue van vervolging het Frankryk getoon wat hy vir die Evangelie kon doen. Vandag word die 800,000 Protestante wat oor is, hoofsaaklik in die volgende vyf gebiede gevind: - die Suide, Charentes, die Noorde, Elsas-Lotaringe en Montbeliard. Die groot meerderheid behoort aan die Hervormde Kerke en die Hervormde Evangeliese Kerke. Hierdie twee organisasies het voorheen 'n onderskeid gemaak tussen die Evangeliegesindes aan die een kant, en Moderniste aan die ander, maar nou is daar groot verwarring in altwee Kampe. Buite hierdie Kerke, voorheen aan die staat verbind (in Elsas-Lotaringe is die Lutherse Kerk nog 'n offisiële Kerk), is daar baie bewegings en denominasies, sommige waarvan vol lewe is.
„ Tog is die toestand van die Protestantisme oor die algemeen baie ernstig; die essensieël Protestantse gebiede word ontvolk; slegs 200,000 mense soos vermeld word, staan in verband met die Kerke. Gedurende die laaste dertig jaar was een van die belangrikste organisasies verplig gewees om meer as 100 buite-kerkies (preaching posts) te sluit, en 'n groot Sendinggenootskap moes dieselfde doen met 'n hele aantal Evangelie-Sale. Byna orals word vooruitgang belemmer deur skuld, wat ook dreig om die werk tot stilstand te bring. Nog iets wat te betreur is en wat verantwoordelik is vir baie euwels, is die groot invloed wat die modernisme nog het in sekere kringe en skole. Aan die ander kant is dit waar dat ortodokse mense dikwels slaap op hulle poste.
,, Gelukkig kan ons God dank vir die werk wat Hy nou in baie harte, veral onder jong predikante, verrig. Mense is geroep wat met krag die boodskap van bekering verkondig. Daar is ook 'n beweging wat probeer om mense na die Bybel terug te bring. Daar word veel van herlewing gepraat, en in verband daarmee moet ons in die gebed verenig oor die volgende onderwerpe: (1) Die Eenheid van God's kindere. Dit moet nog verwesenlik word. Die verskillende gelowige kringe ken mekaar nie en probeer om, elk vir homself, 'n herlewing te verkry. God kan dit nie op sulke voorwaardes skenk nie. (2) Die Heiligmaking van die Gelowiges. Baie sien in die verlossing deur Christus net die vergiffenis van sonde, en daar is baie misverstand oor die persoon en die werk van die Heilige Gees. Mag die Bybel se boodskap van oorwinning in Christus en van die Volheid van die Gees orals verkondig en uitgeleef word. (3) Eenvoud in die Prediking. In 'n land wat natuurlik geneig is tot intellektualisme, loop selfs die evangeliese predikers gevaar om te vergeet dat God's boodskap ,vir die wyse en verstandige mense verberg, en aan kindertjies geopenbaar is.' (4) Die Sending-Gees, 'n Ofiisiële berig het onlangs gesê: , Die Kerk as geheel stel nie belang in die werk van verowering nie, en die meeste raadslede van die Kerk dink nie eers daaraan nie.' Mag God op die harte van die Franse Christene die las lê van die skares sonder Christus in hul eie land.
„ Bid, bid vir 'n herlewing in Frankryk voor dit te laat is; ons tyd is kort, die taak geweldig en die nag kom."
• • • • •
Soos in ander lande gebeur het, het niemand van my koms na Frankryk geweet nie. Ek het ernstig om geleenthede gebid. En die geleenthede het gekom.
Op die Sondagoggend het ek die Woord verkondig in die Baptiste-Kerk te Colombes, 'n voorstad van Parys. Daar was 'n goeie opkoms. In hierdie Kerk doen Pastor Emile Guedj 'n goeie werk vir God en bekeerlinge word steeds by die Kerk gevoeg. Britse vriende sal miskien vir Pastor Guedj onthou as die sanger met die silwer stem. Ek het hom verskeie keer in Belfast hoor sing en was deur sy sang bekoor. Maar om hom in Frans te hoor sing - dit was 'n genot wat nooit sal vergeet word nie! Die taal het blykbaar sy stem tot sy volste reg laat kom. Pastor Guedj, van suiwer Joodse afkoms, is in Algiers, sy geboorteplek, bekeer. Hy het na Parys gekom en hom daar ook in die werk gewerp, die innemende dogter van 'n welbekende Franse pastor getrou, en is nou die reisende sekretaris van die Franse Bybelsending, wat bestaan uit baie Kerke in Frankryk, België en Switserland.
Ek is toe per motor na Parys, en in die namiddag het ek gepreek in 'n ander Kerkie waaroor Pastor Guedj die toesig het. Daarna het ek die voorreg gehad om die mense by die Tabernakel toe te spreek.
Die Tabernakel-Kerk is deur Mnr. Blocher, die skoonseun van die bekwame Pastor Saillens van die Franse Bybelskool, gestig. Met niks nie, behalwe die beloftes van God, het hierdie vrome man 'n huis vir die Here begin bou. Dit het gegroei totdat dit nou 'n groot Kerk is met 300 lede, eweveel kinders in die Sondagskool, dertien werkers en gereelde bekerings.
Baie van hierdie bekerings beteken 'n egte geloofstryd in die gebed. Die ouers van een van die diakens was baie gekant teen sy bekering. Sy vader het 'n kwaai brief aan hom geskrywe, toe hy hoor dat die seun 'n baie hoë betrekking in 'n provinsiale stad geweier het, omdat hy dan nie na die Kerk sou kan kom nie en sy kinders nie in die Sondagskool sou kan plaas nie. Hoe dwaas om eerste die Koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek! Die seun het baie gely, want hy het sy vader teer bemin, maar hy het pal gestaan en vir sy ouers se bekering gebid. Na tien jaar van volhardende gebed het beide sy vader en sy moeder die Verlossing deur Christus gevind by die Tabernakel.
'n Ander vrou het 'n geskeie man getrou. Die R. Katolieke Kerk het geweier om die huwelik te seën en die voorregte van die Kerk is haar ontsê. Sy het baie siek geword aan die tering en het besef dat die dood naby was. Sy wou die vertroosting van haar godsdiens in haar verontruste siel hê, maar die priester wou haar nie absolusie gee nie. Vir haar was daar geen vergiffenis en geen vrede nie. Sy het 'n bietjie beter geword en huistoe gegaan. Een dag het sy 'n ope Bybel in die Tabernakel-venster gesien. Sy het dit gelees en met die boekeverkopers gepraat. Sy was hongerig na die Woord van God en voorberei vir die Evangelie. Sy is bekeer en het vanjaar aangesluit by die Tabernakel. Haar man het ook die Heiland gevind.
Ek het die byeenkoms by die Tabernakel geniet. Na ek die gelowiges toegespreek het, het ons 'n biduur gehad, en dit het 'n tyd geword van indiwiduele erkenning van behoefte en 'n soek na seën.
Later in die aand het ek 'n vierde toespraak gehou - hierdie keer in die Kerk van die Russiese Evangeliese Beweging. Hierdie Russiese Christene het baie belanggestel in my ondervindinge in Rusland. Die vergadering het baie lank geduur, omdat daar geleentheid gegee is vir gebed en indiwiduele belydenis na 'n toespraak oor herlewing.
My hart het uitgegaan na hierdie bannelinge uit Rusland. Hulle het uit alle stande gekom - en watter teënstellinge was daar nie! Een van my gehoor was die innemende Prinses Lieven, wat my in die loop van 'n interessante gesprek 'n waardering gegee het van die bediening van wyle Lord Radstock in ou St. Petersburg. Nog 'n toehoorder was 'n beroepswinkeldief, wat na haar bekering daarop aangedring het om alles wat sy gesteel het in paaimente terug te betaal - tot groot verbasing van die winkeliers.
Hier is 'n brief van die pastor van hierdie Russiese Kerk: ,, Dit spyt my baie dat ek nie die geleentheid gehad het om u tydens u besoek in Parys persoonlik te ontmoet nie. Daar ek bekend is met u boeke, sou dit 'n groot genoeë vir my gewees het om u te ontmoet - miskien sal dit by 'n later geleentheid moontlik wees. Ons voel baie vir die saak waarvoor u staan, want daar is groot behoefte aan herlewing in die kerke.
„ Ons werk onder die Russiese emigrante in Frankryk en België, waarvan daar meer as 500,000 is in hierdie lande. Hulle het Rusland na die Oktober-Rewolusie en Burgeroorlog verlaat. Alle soorte en stande word deur hulle verteenwoordig - aristokrate, professore, studente, offisiers, skrywers, kunstenaars, en hulle vind 'n bestaan, dikwels met groot moeite, op verskillende wyses. Die Heer het ons hier na 1927 gebring en dis ons doel om hierdie Russiese geleerdes vir Christus te wen. Binne 'n paar jaar is daar deur die genade van God 'n bloeinde Kerk gestig, met 'n lidmaatskap van ongeveer 150, en die werk groei steeds"
* * * * Aldus het die Here 'n program vir my gereël hoewel ek g'n vooruitsigte gehad het toe ek in Parys gekom het nie. Vir gasvryheid is gesorg en in alle behoeftes is voorsien. Een van die indrukke op my gemaak is die klaarblyklike gevoel van vrees wat oor Frankryk hang. Bang vir die toekoms, omdat die meerderheid geen God het tot wie hulle hul kan wend in hul nood nie. Die vloek van Frankryk is sy siniese ongeloof. Vrees, vrees, vrees beheers feitlik alles in die Franse politiek. Die verbond met Sowjet-Rusland is gevolg deur 'n skielike oorhelling na die Sosialistiese en Kommunistiese programmas. Kommunisme maak orals vooruitgang in heidense Frankryk. Die probleem van Frankryk is die probleem van 'n volk met sy rug na God gekeer.
|