 |
„ Wel, antwoord maar die telefoon."
Ek het dit gedoen. Dit was die Kolporteur uit Londen. Waarom hy my by Mevr. Blocher se huis opgebel het, is nog 'n vraag wat ek nie kan beantwoord nie en hy nie bevredigend kan verklaar nie. Dit was dus hierdie vriendelike kolporteur wat my rondom Parys geneem het, vir alles betaal het en baie kosbare tyd gespaar het.
Daardie aand het ek met Mnr. Jacques Blocher na 'n vergadering in Le Zone Noir (die Swart Gordel) gegaan. Dit was onvergeetlik. Ek het agterbuurtes in Warskau besoek in vergelyking waarmee die Oos-End van Londen daar fatsoenlik uitsien, maar die Swart Gordel van Parys is verreweg die ergste gesig wat ek al ooit gesien het. Sy oorsprong is eienaardig. Tientalle van jare gelede, het die militêre outoriteite beveel dat daar 'n gordel sonder enige blywende gebou rondom Parys (toe baie kleiner as nou) moes wees om vir verdedigingsdoeleindes gebruik te word. Die gevolg van die bevel was 'n gordel van onbeboude grond wat rondom die stad gestrek het.
Sedert die tyd het die stad verder en verder uitgebrei, totdat daar net soveel bewoners buite as binne was, en die onbeboude grond het spoedig die skuilplek van verstotelinge geword, wat daar in die somer geslaap het. Langsamerhand het hierdie arme skepsels tydelike beskuttings van ou hout, kiste en dergelike dinge begin optrek. Die „ zone militaire"(=die militêre gebied)- om dit sy offisiële titel te gee - het nou 'n bevolking van tien duisende, en almal woon in ellendige hutte, sonder beligting, sonder watervoorraad, sonder 'n rioelstelstel, sonder iets.
Terwyl Mnr. Blocher en ek ons weg langs die smalle paadjies gesoek het, het hy my meer omtrent die bewoners vertel. Daar was Pole, Spanjaarde, Algeriërs, Franse en alle soorte en klasse. Daar was diewe en moordenaars, sakkerollers en sluipmoordenaars. Maar die bejammerenswaardigste was die skares van klein kindertjies. |