Die belofte is vir U

DIE BELOFTE IS VIR U

10,000 Myl van wondere - na Palestina

J.Edwin Orr

In Afrikaans:

Mev M.M. Oberholzer

Uitgegee deur die:

C.S.V Boekhandel

Stellenbosch

1936

"Julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom toe sal roep"

 

025 - 039

HOOFSTUK III
DIE BLOUE DONAU

Daar is iets baie bekoorliks omtrent die Donau-rivier. Sy tweeduisend myl, van die bron na die mond, is baie interessant, vol van geskiedenis, van geografie, van
romanse.

Met sy oorsprong in die Swarte Woud van Suid-Duitsland, loop die Donau deur Tsjeggoslowakye, Oostenryk, Hongarye, Jugoslawië, Bulgarye, en Roemenië, waar dit uiteindelik sy miljoene gellings water in die Swart See ledig.

Ek sal dus die verhaal van my omswerwings in hierdie sewe lande vertel, net soos 'n mens die verhaal van die Kronkelinge van die Bloue Donau sou meedeel. Soos die leser sal opmerk, is daar regverdiging vir die verband.

TSJEGGOSLOWAKYE-Die Land van Hus.
Vroeg een oggend, toe ek op weg was van Munchen na Praag, het ek my eerste gesig van die Donau by Regensburg in Beiere gekry. Na ek deur die groot Boheemse Woud gegaan het, het ek dieselfde namiddag Praag, die drukke hoofstad van Tsjeggoslowakye bereik. Ek het allereers na die Poskantoor gegaan, toe 'n goedkoop kamer in 'n hotel bespreek en daarna die vriend van 'n man wat ek in Warskau ontmoet het, gaan soek. Al drie ondernemings is met sukses bekroon.  Ek het die genoeë gehad om saam met die genoemde persoon te gaan stap en met hom te praat. Hy het my vertel dat,, hy gedink het dat ek my klaarmaak om na Amerika te gaan, en besluit het om aan my te skrywe en my te vra om eers na Praag te kom. Nou het hy dit 'n bietjie minder as 'n wonderwerk beskou dat die persoon aan wie hy soveel gedink het, in werklikheid gekom het."

Daardie aand het ek teruggeloop na die hotel, die portier gelas om my om 6.15 v.m. te laat wakkermaak, en na bed gegaan. Net voor ek gaan slaap het, het ek 'n kennisgewing agter my deur gesien. Dit was die tarief in Tsjeggies en Duits.

„ Meer geld," sê ek vir myself, toe ek opmerk dat die prys vir die kamer twintig krone was, plus een kroon vir die kamerbediende.
Klop-Klop-Klop!
Ek spring op en roep uit, „ Ja?"
Die deur gaan oop en die portier oorhandig my my rekening.
Vir 'n oomblik was ek verbysterd.
„ Kan hy my nie tot die oggend vertrou nie?" het ek gedink.
Die portier aarsel.
„ Ek het u die rekening gegee, maar u nie betaal-"
„ Wat bedoel hy?" dink ek by myself.
Die portier aarsel weer en begin weer, ,, Ek het u die rekening gegee, maar dit is betaal-"
Ek het die rekening oopgemaak en gevind dat dit 'n kwitansie was.
„ Maar ek het jou niks geld gegee nie!" sê ek, maar dink daarby, „ Word ek vergeetagtig ? Het ek vooruit betaal?"
„ U gee my niks geld nie," verduidelik die portier, „ Maar u vriend kom hier net nou betaal dit."
„ Natuurlik," sê ek toe ek die posisie begryp. „ My vriend het dit vooruit betaal. Dankie. Goeie nag."
Ek het die deur agter hom toegemaak.
„ H'mf!" het ek hardop gesê, eers in Tsjeggies en toe in Duits. Kort daarna was ek rustig aan die slaap in die bed wat op so 'n vreemde wyse voorsien was.
Praag, die hoofstad van die nuwe republiek van Tsjeggoslowakye, deur die Vredesverdrae gestig, is 'n moderne stad. Maar, as hoofstad van Boheme, het dit 'n baie ouer geskiedenis. Omstreeks die tyd van Wycliffe, het Johannes Hus Hervorming verkondig in Boheme en binne 'n twintigtal jare het Boheme hoofsaaklik Protestants geword. Maar Hus is gemartel en die Protestante is wreed vervolg, gedood of uitgedryf, totdat Boheme weer Rooms-Katoliek geword het.
Na die oorlog is Boheme, Slowakye, Morawië, Benede-Karpatië en andere gebiede, voorheen onder die bestuur van Oostenryk-Hongarye, saamgestel om 'n onafhanklike republiek te vorm, met Tsjeggies, Slowakies en verwante dialekte as voertaal. Met 'n leier soos President Masaryk aan die hoof van sake, het die land floreer. Die bevolking is oor die veertienmiljoen, waarvan twee-derdes Rooms-Katoliek is, en meer as 'n miljoen Protestants. Sedert die oorlog is daar 'n beweging in die rigting van die Protestantse Kerke gewees. Die Lutherse en Hervormde Kerke is, wat getalle betref, die sterkste Protestantse denominasies, maar daar is ook Metodiste, Baptiste, Congregationaliste en andere.
Ek het 'n baie aangename vergadering in die Metodistiese Kerk in Praag gehad. Toe hy my voorstel het die Superintendent gesê:
,, Mnr. Orr se boek het ek Saterdag ontvang, en ek het twee keer by die Sondagdienste daaroor gespreek.
En kyk, Mnr. Orr het Maandag aangekom!"
Die pastor het toe vir my getolk. Ons het die Here se teenwoordigheid in die biduur wat gevolg het, gevoel; sommige het behoefte bely en andere het gebid om herlewing van die hart. Veel gebed het opgegaan vir herlewing in Tsjeggoslowakye.

OOSTENRYK en VROLIKE WENE.
Tsjeggoslowakye en Oostenryk word (digby Bratislava) deur die Donau geskei. Ek het Oostenryk oor Bratislava bereik en na Wene gereis. Ek het daar om 6.30 v.m. aangekom en langs die strate geloop, totdat ek by 'n park gekom het. Ek het op 'n bank gesit en 'n appel geëet, toe 'n jongman na my kom en om  kleingeld vra - vermoedelik vir die telefoon. Ek het met hom in Engels gepraat en tot my verrassing het hy sonder fout geantwoord. Ons het 'n gesprek aangeknoop en hy het daarop gestaan om my te vergesel, en het my handsak gedra tot by die Hoofposkantoor. Hy was 'n mediese student en 'n Jood, 'n Uur later was ons saam in 'n kafee, toe hy die kwessie van verlossing aanraak. Hy was so geïnteresseer dat hy sy lesings aan die Universiteit laat verbygaan het. Ek het uitgevind dat hy nie 'n ortodokse Jood was nie, maar 'n soort van agnostikus (ongelowige).
Hy was baie gretig om my sienswyse te wete te kom.
Wene is seker een van die skoonste stede in Europa. Die wye boulevards, die geboue, die parke - almal van die eerste rang. Een-derde van die Oostenrykse bevolking (byna sewemiljoen) woon in hierdie pragtige plek. Maar Wene was voorheen die hoofstad van 'n groot ryk, en is nou te groot vir die Klein Republiek wat na die oorlog gestig is. Daar is 'n sterk begeerte by die volk om op een of ander wyse met Duitsland te verenig, maar die Regering ('n diktatorskap) het enige uiting van so 'n begeerte verbied. Dit het verskeie Oostenrykers egter nie verhinder om my te vertel dat 'n groeiende deel met Hitler se Derde Ryk wou verenig
word nie. Ek het Christene met die hoogste waardering hoor praat van Hitler, wat self Oostenryker is.
Slegs drie per sent van Oostenryk is Protestants, en die werk van God word baie belemmer. Rooms-Katolisisme, van die dominerende tiepe, is „ Kaatjie van die baan." Een van my vriende het my vertel dat hy 'n handbiljet uitgegee het met die aankondiging dat hy sou spreek oor, „ Die beoefening van die godsdiens, óf die verlossing deur Christus - Welke ?" Hy het nouliks die gevangenis ontsnap vir hierdie heiligskennis teen die Rooms-Katolieke Kerk.
Maar al die Evangeliegesinde groepe is verenig in hul verlange na 'n herlewing. Mnr. H. Martyn Gooch {Die bekwame Sekretaris van die Wêreld se Evangeliese Alliansie. } se onlangse besoek het soos my vertel word meegehelp om die gevoel van eenheid te versterk. Maar daar bly nog baie oor om te doen.
Ek het in die Metodistiese kerk gepreek. Die pastor het nie tevore van my gehoor nie, en ek ook nie van hom nie. Ons het 'n geseënde tyd gehad. Die vergadering is gevolg deur 'n tyd van ernstige gebed om herlewing.
Ons het gesluit met die pragtige Duitse gesang:
,, Hier ist mein Hertz:
Mein Gott, ich geb'es dir-
Mein súndig Hertz.,>
,, Hier is my hart:
My God, ek gee dit U
My sondige hart.,)
My vriende wou baie graag hê dat ek vir 'n langer verblyf na Oostenryk moes terugkom. Hulle laaste woorde was:-
„ Met ons hele hart verlang ons na nerlewing."

HONGARYE-die Ryk sonder 'n Koning.
Tot op die laaste oomblik was die ervare staatsman, wat die verteenwoordiger van Hongarye onder die raadgewers van Keiser Franz Josef was, die enigste om teen die oorlog te stem. Dwarsdeur die gewigtige dae wat die ultimatum aan Serbië voorafgegaan het, was Hongarye ten gunste van vrede. En tog het Hongarye na die oorlog die meeste in die vredesverdrae gely. Die Verdrag van Trivanon het oor twee-derdes van die gebied van die vorige Ryk van die Magjare beskik, en viermiljoen Hongare onder die juk van drie buitelandse Regerings geplaas. Die agmiljoen wat oorbly voel dit baie. En so sou ons ook.
As die Noorde van Engeland aan Duitsland gegee was, die Weste van Engeland aan Frankryk en Oos-Anglia aan Rusland, hoe sou Engeland daaroor voel? En as Duitsland, Frankryk en Rusland sou verenig om Engeland te onderdruk as hy sou probeer om die verlore gebied terug te kry, wat sou Engeland doen? Wel, dit is die toestand in Hongarye, en 'n mens kan net die moed en die geduld bewonder waarmee die Hongare die toekoms in die oë kyk en op die beste hoop.
„ Ons hou aan met bid," het 'n Magjaarse Christen gesê, „ dat die Here Self ons ons mense sal teruggee. Maar ons weet nie hoe Hy dit sal doen nie."
Oorlog kan die saak miskien regmaak, maar wie sal vir Hongarye veg? Hongarye het 8-miljoen mense in vergelyking met die 48-miljoen wat teen hom verbind is. Die absolute wanhoop en diepe vernedering van die toestand het die nasie na God gedrywe.
,, Ons hou aan met bid," het my vriend gesê. „ En in elke trem sal jy die woorde vind: , Ek geloof in God; ek geloof in die vaderland; ek geloof in die goddelike reg; ek geloof in die opstanding van Hongarye.' Die kinders sê hierdie gebed elke dag op skool op."
„ Hoewel Hongarye geen Koning het nie, is dit nie 'n republiek nie." Van oudsher af is die Magjare Koningsgesindes gewees. Hulle het die Oostenrykse Keiser as Koning van Hongarye aangeneem. Die Oostenrykers het hul Keiser uitgedryf. Maar Hongarye is vandag nog 'n ryk, deur 'n Regent regeer, en hy wag totdat hy 'n Koning kan vind wat hy kan respekteer.
Uit Hongarye se bevolking van 8,688,000 is een-kwart Protestants, hoofsaaklik Luthers en Hervormd, maar daar is ook Metodiste, Baptiste en andere. Die Protestante is nie ten gunste van die herstel van die Habsburg-familie op die troon nie. Die Habsburgers was en is nog bekrompe Rooms-Katolieke. Die Regent en die Eerste Minister is albei Protestante.
Boedapest - die vereniging van die tweeling stede Boeda en Pest - is die hoofstad en dit is 'n besonder mooi stad. Dit word die ,, Koningin van die Donau " genoem en dit verdien die naam.
Ek het laat een aand in Boedapest aangekom, het goed geslaap en vroeg die volgende oggend na die Poskantoor gegaan. My dagboek vermeld 'n vreemde gebedsversoek vir daardie dag. Hier is dit:
,, Gebid dat ek ons vriend B. Godfrey Buxton mag ontmoet - as hy nog in Hongarye is. Wat 'n hoop! As al die mense in Hongarye verby my sou marsjeer met 'n vaart van tien per minuut, sou dit twee jaar neem om na hulle te kyk. Maar - alles is by God moontlik!
Ek het gehoor dat Kaptein Buxton van plan was om Hongarye in die loop van Meimaand te besoek. Maar watter kans was daar om hom te ontmoet? Ek het des te meer gebid.           
****
Omstreeks dieselfde tyd, in 'n vergadering ten huise  van 'n welbekende dokter in Boedapest gehou, het Kaptein Buxton die Skrif begin uitlê aan gretige hoorders. Voor hy begin het, het hy 'n paar woorde vooraf gesê:
„ Julle Hongaarse vriende het 'n hele inval van Engelse. Daar is hier teenwoordig vanaand ekself en my vrou, en daar het ons 'n Ier, Mnr. Edwin Orr. Die dag voor ons vertrek uit Londen, het ek rondgestap in die stad van Londen. Ek het Mnr. Orr ontmoet - heeltemal by toeval, sou 'n mens gedink het. En nou weer, net voor ons vertrek na Londen, wie sal ingestap kom anders as Mnr. Orr self. Dis baie vreemd. Ek moet erken dat ek so geweldig verras was dat ek in die begin sy naam vergeet het - hoewel ek hom goed ken."
Ek was na hierdie vergadering uitgenooi, voor ek verneem het dat Kaptein Buxton teenwoordig sou wees.
Uit my dagboek die aand:
„ Dis byna middernag. Buite my slaapkamervenster hoor ek 'n pragtige Hongaarse orkes wat speel O! Sole Mio! Met my hele hart, kan ek die woorde sing wat ons op daardie wysie tuis sing:
O, ek bemin Hom!
O, ek aanbid Hom!
Lewe en sonskyn,
Alles vir my.
Ewige' Skepper
Word my herskepper,
Nou woon Gods volheid
Heerlik in Hom.
Wat 'n wonderlike Verlosser! Geseën sy Sy Heilige Naam vir ewig!"
Die Sondag was 'n drukke dag vir my. My vriendelike gasheer het my vergesel na 'n Sanatorium naby Boedapest waar ek by die oggenddiens gespreek het. Onder my gehoor was daar ook Rooms-Katolieke en Jode wat baie aandagtig geluister het. Een man wat Engels gepraat het, het later 'n lang gesprek met my gehad. Hy het my verseker dat hy na die dieper dinge van die geestelike lewe gesoek het en dat hy van plan was om sy lewe aan die Here oor te gee. Hierdie kêrel het heeltemal oortuig geskyn dat God wou hê dat hy die diepere waarhede in die Rooms-Katolieke Kerke moes verkondig, dus het hy hom klaargemaak om 'n Benediktynse Klooster naby die Ballatonmeer in te gaan.
Daardie aand het ek na 'n baie lewendige vergadering van Ope-Broeders gegaan. Ek het groot vryheid in die verkondiging gevoel, want hierdie mense ken hul Bybel goed. Ek het dus die Woord verkondig en 'n welbekende Universiteitsprofessor het getolk. Baie mense het 'n herlewing van die hart gehad, het hul behoefte in die gebed bely en seën gesoek. Ons het geleentheid gegee vir gebed en dit was 'n genot om beide manne en vroue te hoor erken dat hulle mislukkings was, toe hulle God vra vir krag om te dien.
In Hongarye het God in al my behoeftes voorsien - huisvesting, goeie voedsel, en voorsorg vir die volgende stadium van die reis. Verskeie vriende onder die Metodiste, Broeders en die Heilsleër was uiters vriendelik.
Op die dag van my aankoms het ek die voorreg gehad om die Hongaarse Evangeliese Bond-Komitee toe te spreek - 'n liggaam wat die land so goed verteenwoordig het as 'n mens kon wens. Ek het die introduksie te danke gehad aan die vriendelikheid van Mnr. H. M. Gooch in Londen.

JUGOSLAWIË-'n Nasie in Wording.
Toe ek in Belgrado aankom, was dit te laat om besoeke af te lê, en in die oggend het ek ontdek dat Mnr. Wiles, van die Brits en Buitelandse Bybel-Genootskap, verder suid gegaan het. Dit het my in 'n moeilike posisie geplaas, want syne was die enigste adres waarvan ek gehoor het. Sy assistente was baie gedienstig maar het my meegedeel dat daar g'n publieke vergaderings sou wees gedurende my kort verblyf nie. Tot op die aand van my vertrek, het ek g'n ander Christene ontmoet nie. Ek het besluit om Jugoslawië nie te verlaat voor ek êrens gepraat het nie - en tog het ek my plek op die middernagtrein bespreek! Ek het aangeloop by die C.J.V., maar daar was niemand daar nie; ek het by die Heilsleër aangeloop, maar die Kaptein was nie tuis nie.
Om 7.15 n.m. het ek teruggegaan na die Heilsleër, die Kaptein tuisgevind, en is onmiddellik gevra om oor die diepere waarhede van die Christelike ondervinding te praat by 'n vergadering van slegs soldate. Hierdie beweging is maar onlangs begin.
,, Hulle is byna almal , Klein Kinders in Christus,,,, het die Kaptein gesê, ,, sonder enige agtergrond. U boodskap sal dus nodig wees."
Ons het 'n nuttige vergadering gehad. Ek glo dat iets tot stand gebring is. Verskeie soldate het na doe belydenisbank gekom om hul verbond met God te hernu,
om mislukking te bely en om seën te soek. Dus het ek in Jugoslawië gespreek voor die middernagtrein vertrek het.
Jugoslawië is 'n nasie in wording. Vir ongeveer vyfhonderd jaar was die grootste deel van die land onder die ysterroede van die Turke - 'n verwoestende, vernietigende despotisme. Toe het die vryheidsoorloë begin- oorlog, oorlog, oorlog tot die end van die Groot-Oorlog.
Die Vredesverdrae het die nuwe staat Jugoslawië opgerig, bestaande uit Serbië, Kroatië, Slowenië, Montenegro, Bosnië, Herzegovina ens. - almal verwante Slawiese volke wat min of meer dieselfde taal praat.
Die bevolking staan nou op 14,000,000, Sewen-en-veertig per sent is Pravoslav (of Grieks-Ortodoks), negen-en-dertig per sent is Rooms-Katoliek, hoofsaaklik Kroatiërs uit die Noorde, elf per sent is Mohammedaans.
Daar is baie min Protestante.
„ Die Grieks-Ortodokse mense is dood," is my vertel, „ en die Lutherane slaap."
Natuurlik is daar uitsonderings. 'n Mens hoor dat verskeie Ortodokse priesters nou bekeerd is, en hulle moedig bepaald die lees van die Bybel aan. Maar die probleem van Jugoslawië is ernstig.
'n Herlewing in die groot, lewenlose Kerke is nie onmoontlik nie. Maar herlewing bereik gewoonlik belydende Christene, nadat dit besittende Christene verander het.
In Belgrado, voor my vertrek, het ek die gesig van die magtige Donau wat verby die stad na die see vloei, geniet. Toe het ek my sak gepak en langs die vallei - ook na die see - getrek.

DIE LAND VAN DIE BULGARE.
'n Geselskap van Amerikaanse toeriste (so word my vertel) het op die Bulgaarse paaie gereis in 'n vinnige kar en 'n ongeluk gekry. Die man in die geselskap het sy bes gedoen om die skade te herstel, maar sy pogings en ook die van die Bulgaarse bestuurder was tevergeefs. Na 'n uur of twee het 'n ander groot kar stilgehou. Sy bestuurder en nog 'n man het gevra wat die moeilikheid was, het welwillende hulp verleen en het die eerste kar gou weer in orde gekry.
„ Hoeveel sal ek hom vir 'n fooi gee?" vra die Amerikaner aan sy bestuurder.
Die Bulgaar glimlag.
„ Net wat u wil. Dit is Boris, Koning van Bulgarye.
Die Koning van Bulgarye is baie populêr en hy is net so vriendelik as die Bulgare self.
Bulgarye was nie 'n gelukkige land nie. Vir eeue het dit onder die nadeel van die Turkse wanbestuur verkeer. Toe het die vryheidsoorlog gekom en Bulgarye was vry. In 1912 het die Eerste Balkanoorlog begin - Serbië, Roemenië, Bulgarye en Griekeland het saam die Turke verslaan. Die ink was skaars droog op die vredesverdrae toe die Tweede Balkanoorlog uitbreek, en Bulgarye moes Roemenië, Griekeland, Serbië en Turkye beveg. Dis nie baie verrassend om te verneem dat Bulgarye verslaan is nie. Die ander lande het natuurlik hulself beloon met Bulgaarse gebied. Ferdinand, Koning van Bulgarye het sy volk (baie teen hul sin) in die Groot-Oorlog gesleep aan die kant van die Sentrale Moondhede. Die daaropvolgende posisie was paradoksaal. Bulgarye, onoorwonne tot die laaste veldslag, het meer gebied verloor. Roemenië, aan die kant van die Geallieerdes, is vanaf die begin van die oorlog platgeloop, en het tog meer as twee keer so groot as tevore daaruit gekom.
Op die oomblik is Bulgarye op 'n beter voet met sy buurstaat, Jugoslawië. Sommige Bulgare praat van die vereniging van hierdie twee Slawiese volke, wat 'n Slawiese bloc van 20,000,000 mense in die lewe sou roep. Die Bulgare is nou self by uitstek Slawies, want hulle het hul taal deur ondertrouery verloor, hoewel die oorspronklike Bulgaarse setlaars van Sentraal-Asiaties-Turkse oorsprong was.
 Die bevolking van Bulgarye is ongeveer sesmiljoen, maar nog 'n miljoen woon buite die ryk. Twee-derdes is lidmate van die Pravoslav (Grieks-Ortodokse) Kerk, en net 'n baie klein proporsie hiervan is bekeerde Christene. Die Evangeliese werksaamhede is klein.
Sofia is die hoofstad, en ek het daar op 'n warm, bedompige namiddag aangekom. Ek het 'n hartlike aanbevelingsbrief aan 'n welbekende Christen-leier gehad, maar daar die Bulgaarse straatname in die moeilike Cyrilliese letters gedruk is, het ek groot moeite gehad om die plek te vind. Plotseling word ek deur 'n jong student in Duits begroet. Hoewel my Duits taamlik hopeloos is (daar ek dit nooit geleer het nie), kan ek myself verstaanbaar maak. Hierdie nuwe vriend het daarop aangedring om die hele vermoeiende weg saam te stap, en toe ek eindelik die plek bereik het, het ons uitmekaar gegaan. Maar, tot my groot verbasing, is ek nie besonder hartlik ontvang deur die Christen-leier nie, dus het ek weggedraai, baie ontmoedig en hopeloos, en het probeer om 'n ander adres wat my ook genoem is, te vind. Net toe ek op my ellendigste voel, het die Duits-sprekende student my weer begroet! Na ons vir 'n uur geduldig en ywerig saam gesoek het (want ek het die verkeerde adres gehad) het ons die tweede Christen gevind, en tot my verligting is ek uiters vriendelik ontvang.
Hierdie tweede Christen kan 'n wonderlike getuienis aflê. Uit 'n Pravoslawiese familie, het hy Kommunis geword. Daar hy Engels wou leer, is hy na Christus gelei deur die vrome voorbeeld van 'n Evangeliese pastor, wat as dosent nie 'n woord oor godsdiens gepraat het nie, maar so 'n heilige lewe gelei het dat Mnr. Simeonoff bekeerd geword het. Pastor A. Simeonoff het in Switserland studeer en is 'n groot taalgeleerde sowel as pastor van 'n bloeiende Kerk.
Ek is hartlik verwelkom by sy biduur (wat gewoonlik deur 100 persone bygewoon word), en daar het ek die Woord van herlewing verkondig. Dank sy die Here alleen, het vele getuig dat hul seën en bemoediging ontvang het. Hierdie en ander heiliges bid om herlewing in Bulgarye.

SWERWENDE DEUR ROEMENÏE.
Ek het weer oor die Donau gegaan, hierdie keer op 'n pont wat my oor die rivier na Roemenië geneem het. Die volgende trein het my tot by Boekarest, die hoofstad, gebring.
In die Roemeense hoofstad het ek 'n ligte aanval gehad van die kwaal gewoonlik bekend as „ doodsbenoudheid"! En waarom ?- Sommer!
As u in die strate van Boekarest gestap het met die wete dat, na u alles wat u skuld, betaal het, u net een sjieling sou oorhou, hoe sou u voel?
Wel, ek het gevoel ek wou huistoe gaan. Maar die afstand was byna tweeduisend myl in 'n regte lyn - maar ek kon nie in 'n regte lyn gaan nie. Dit was net so maklik om aan te gaan as terug te gaan.
Ek het aan 'n ander plan gedink. Waarom nie 'n brief per lugpos aan 'n sekere vriend in Londen stuur en hom vra om my per kerende lugpos geld te stuur nie - en dan uithou tot hulp kom ? Dit was uitvoerbaar, maar-!
Vars in my geheue was die woorde in 'n brief van 'n vriend wat 'n verantwoordelike betrekking in Londen beklee. Hy het gesê dat hulle bly sou wees om (soms)
te hoor „ hoe dit die Here behaag het om jou te lei, te onderhou en te seën op die buitelandse reis." As ek geld geleen het om huistoe terug te keer, sou ek nie iets van veel betekenis aan my vriend kon vertel nie.
Ek het 'n gesprek met myself gehad.
„ Wat sal ek doen?" „ Wel, jy is nog nie dood nie."
„ Ja, maar ek het geen hoop nie."
„ Wat omtrent Gods beloftes?,"
,, Maar, veronderstel - ?" ,, Waar is jou geloof ?"
Waar inderdaad?
„ Kyk, al wil Hy my doodmaak - ek hoop op Hom."
Met nuwe vasberadenheid het ek navraag begin doen. Ek het gou my weg gevind na die huis van 'n Duitse pastor - hy was Duitsland-toe. Sy seuntjie het my
na die huis van 'n ander pastor geneem. Hy was nie tuis nie (het ek afgelei), en daar my beriggewer nie Engels kon praat nie, het ek in wanhoop weggedraai.
Op daardie oomblik kom daar 'n dame die trappe opgehardloop, en groet my in Engels. Sy was 'n Switser, en haar man het 'n gesprek (deur 'n tolk) met my begin om uit te vind wat ek wou hê. Ons het nie lank gepraat nie of hy sê:
„ Ons is bly om enigeen wat belangstel in herlewing, te ontmoet. Miskien sal u so vriendelik wees om by ons in Boekarest te bly.
'n Uur later het die pastor tuisgekom en ek het myself voorgestel. Dit het geblyk dat hy 'n vriend was van my korrespondent in Londen - Ds. H. L. Ellison.
Die volgende dag het ek my vriende vertel dat ek van plan was om dieselfde aand Roemenië te verlaat. Hulle het dus haastig 'n vergadering bymekaar geroep.  As 'n mens in aanmerking neem dat daar net drie uur kennis gegee is, was daar 'n baie goeie opkoms. Baie het Engels gepraat, maar ek het deur 'n tolk gespreek terwille van diegene wat g'n Engels geken het nie. Die gevolg was dieselfde as in ander plekke. Verskeie Christene was in trane, almal het seën gesoek, baie het mislukking en tekortkominge bely - ook my tolk - en onder ander genoeglike dinge het 'n Universiteitsprofessor ten gunste van Christus besluit.
Die Here het weer in al my behoeftes voorsien op 'n wyse wat my laat skaam voel het oor my gebrek aan geloof, en vir die volgende trek is op 'n wonderlike wyse gesorg. Ek het (vir die laaste keer) oor die Donau gegaan naby sy mond, op weg na Konstanza in die Dobroedsja. By Konstanza het ek aan boord 'n Roemeense skip gegaan en teen middernag vaarwel gesê aan Roemenië.
Roemenië is 'n interessante land. Sy bevolking tel agtienmiljoen, sestig per sent waarvan Grieks-Ortodoks is, eenmiljoen Rooms-Katoliek, eenmiljoen Grieks-Katoliek, eenmiljoen Jode, en een en 'n kwart-miljoen Protestante. Daar is egter behoefte aan herlewing in Roemenië. Daar is min geestelike lewe en op sedelike gebied kan dit met Frankryk vergelyk word.
****
Die Bloue Donau is 'n interessante, skone, bekoorlike en romantiese rivier. Na dit die land van sy oorsprong verlaat, loop dit deur ses groot lande, die totale bevolking waarvan meer as vyftigmiljoen mense tel. Net 'n baie klein deeltjie onder hulle het ooit die evangelie van vrye verlossing gehoor.
Die Bloue Donau is 'n rivier van droefheid.

Gaan 'n rukkie neem voordat hierdie ordentlik ge- OCR sal wees. Kom nou: Indien elke persoon net één bladsy oortik en aanstuur, het ons die boek op die net sommer baie vinnig! i m @ t h e z i r . c o m (sonder die spasies) Die Belofte is vir U.zip [22,185,911 bytes]

Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.