Waarskuwing teen die ontugtige vrou.
SPR 5:1 : MY seun, luister na My Wysheid, neig jou oor tot My Insig,
SPR 5:2 : dat jy volle oorleg kan behou en jou lippe Kennis kan bewaar;
SPR 5:3 : want die lippe van die verbasterde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie,
SPR 5:4 : maar op die end is sy bitter soos Alsem, soos 'n swaard aan weerskante skerp.
SPR 5:5 : Haar voete daal na die Dood toe af, haar treë streef na die Doderyk/Sheol toe.
SPR 5:6 : Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet.
SPR 5:7 : Luister dan nou na My, julle seuns, en wyk nie af van die Woorde van My Mond nie.
SPR 5:8 : Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie,
SPR 5:9 : sodat jy nie jou bottyd aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie;
SPR 5:10 : sodat verbasterdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van 'n uitlander kom nie
SPR 5:11 : en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is,
SPR 5:12 : en moet sê: Hoe het ek die Tug gehaat en my hart die Teregwysing versmaad,
SPR 5:13 : en nie geluister na die Stem van my Onderwysers en geen gehoor gegee aan Hulle wat my geleer het nie!
SPR 5:14 : Amper was ek heeltemal in die besoedeling, in die vergadering by die samekoms.
SPR 5:15 : Drink water uit jou eie Reënbak en strome uit jou eie Put.
SPR 5:16 : Sal jou Fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine?
SPR 5:17 : Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir verbasterdes saam met jou nie. [MattithJaHûW 7:6]
SPR 5:18 : Mag jou Fontein geseënd wees, en verheug jou oor die Vrou van jou jeug -
SPR 5:19 : die liefdevolle Bokkie en Bergbokram; laat Haar borste jou altyd versadig, mag jy voortdurend van Haar Liefde bedwelmd wees.
SPR 5:20 : Maar waarom sou jy, My seun, by 'n verbasterde vrou bedwelmd raak en die boesem van 'n Ontugtige omhels?
SPR 5:21 : Want elke mens se weë is voor die Oë van JaHWeH, en Hy weeg al sy gange.
SPR 5:22 : Sy eie Ongeregtigheid vang hom, die besoedelde, en in die vangstrikke van sy oortredinge word hy vasgehou.
SPR 5:23 : Hy sal sterf deur gebrek aan Tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.