Pablo Software Solutions
Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.
Deon Hugo-Reeks :Website Builder
1-Op die Drumpel :2-Gaudeamus Igitur :3-die Werkende Jongmens
Vooraf :Die glasprisma van 'n reënbooglewe :Alles vir die Afrikanervolk, die Afrikanervolk vir Christus :Die stam waaruit jy gegroei het :Katvoetloop op die landmynpad :Die 61-kilometer-per-uur leefwyse :Verantwoordelike onverantwoordelikheid :Met 'n terrasrok agterop 'n bromponie :Ledigheid is die duiwel se :val-nou-en-betaal-later-skema :Skoubulle en springmielies :"Vrees God en hou jou kruit droog"
Web Title

Christen-Afrikaner-jongmens-op-die-drumpel, dié gesprek was met jou - ek vra verskoning as ek te veel „gepraat" en te min „geluister" het.
Miskien het ek jou soms valslik beskuldig - dan behoort die kans nou in elk geval beter te wees dat jy onskuldig sal bly - hulle sê mos, voorkoming is beter ...

Miskien het ek soms verraai dat ek, soos die meeste volwassenes, jou nie verstaan nie - dan bly die troos darem nog dat God ons wel verstaan - want Hy ken ons beter as wat ons onsself ken.

Miskien het ek my daaraan skuldig gemaak dat ek soms te groot eise aan jou gestel het - wees dan getroos dat God nooit ryp vrugte in die lente eis nie.

Waaraan ek my wel skuldig gemaak het - en ook nie verskoning voor vra nie - is dat ek my neus in jou sake gesteek het! Want jou waarde vir die Koninkryk van God en die voortbestaan van die Afrikanervolk is te groot dat ek jou kan uitlos.

En dit geld vir elke Christen-Afrikanerseun en -dogter:
Jy met die te lang bene
Jy met die kweperlat-gebreide sitvlak
Jy met die las van onooglike puisies
Jy wat nie in 'n huis op skuldbult woon nie - ook jy wat wel daar woon
Jy wat gewoond is aan eerste-plek-in-atletiek-en-leierskaptoekennings
Jy wat eensaam is
Jy met die ses matriek-onderskeidings - ook jy wat alleen uit matriek sal kom as die skool afbrand.

Want, jy-op-die-drumpel se waarde vir Gods Koninkryk en die Afrikanervolk gaan nie net bepaal word deur jou sukses of mislukkings duskant die drumpel nie, maar ook van jou roepingsvervulling anderkant die drumpel.

Daarom sal jy in die jare wat voorlê móét onthou dat God nie net na gebede luister nie, maar ook kyk hoe jy die graaf of die naald of die boek of die verfkwas in sý skepping hanteer. En jy sal moet onthou dat die Afrikanervolk nie net leef van goudmyn-bedrywe en uraan-navorsing en parlementsittings en diplomatieke behendigheid nie, maar ook van tikstervaardigheid en noodsaaklike sleurwerk en motorwerktuigkunde en wasdagroetine en - ja, noem maar op.

In hierdie toekoms avontuur wat op jou wag, het jy met jou talente 'n belangrike taak. En al sou dit vir jou dalk soms onbelangrik mag lyk, móét dit belangrik wees, anders sou God dit nie aan jou toevertrou het nie.

Daarom moet jy jouself wees - d.w.s. soos God van jou verwag as Afrikaner-jongmens. M.a.w. jy moet jou identiteit ontdek en uitbou en handhaaf. Terloops, van iemand sonder 'n identiteit is al gesê dat hy soos 'n vlermuis is - hy word nie deur die voëls erken nie en die muise verag hom.Op hierdie pad van selfontdekking en roepingsvervulling kan die volgende aanvulling, by wat voorheen reeds gemeld is, dalk ook nog van waarde wees:

Onderskei tussen volwassenheid en opgeblasenheid;
Weet dat stabiliteit en soepelheid mekaar nie noodwendig uitskakel nie;
Bly kinderlik maar ontgroei so gou as moontlik kinderagtigheid;
Selfkennis alleen is nie genoeg nie, maar dit moet lei tot selfaanvaarding;
Lewensmislukkings word nie net onderskei deur hul drag nie, maar meestal deur hul gedrag;
Weelde en status vrywaar die mens nog nie daarvan dat hy 'n kultuur-boemelaar kan wees nie;
Woorde is waardevol maar dade het ewigheidswaarde.

En nou moet jy oor die drumpel stap. En wat anderkant die drumpel op jou wag is nie net voorspoed en geluk nie, maar meestal stryd en dikwels terugslae en soms smarte. Want, soos iemand tereg gesê het, ook God beloof sy kinders geen stormvrye vaart nie. Maar wie kinderlik glo en onvoorwaardelik gehoorsaam en slaggereed is vir elke stryd, kom veilig tuis.

M.a.w. vertrou en werk, gehoorsaam en doen, glo en veg.

En nou kan ek seker, vir jou op die drumpel, geen ander lewensleuse gee vir jou pad anderkant die drumpel nie, as die woorde van 'n ou slagspreuk:

Afrikanerseun en -dogter, „Vrees God én hou jou kruit droog"

Laaste keer geredigeer: 2008  / Geplaas: 31 Maart 2017

Op die Drumpel ingevoeg 19 Okt 2018, Geplaas: