By die skepping is die mens as die twee-eenheid, man-vrou geskape. Man en vrou is so geskape dat hulle ingrypend van mekaar verskil. Maar, hoewel verskillend, is hulle ook weer so geskape dat hulle as man en vrou op mekaar betrokke is en mekaar aanvul. Hieruit kan ons aflei dat daar 'n onderlinge aantrekkingskrag tussen man en vrou bestaan, wat deur God gegee en deur Hom bedoel is. So heilig ag God die verhouding tussen bruid en bruidegom dat Hy dit die beeld maak van die eenheid tussen Christus en Sy Kerk. Die hele saamwees van jongmense staan dus in die teken van voorbereiding tot dié saamwees in die huwelik.
Na die skepping het egter die sondeval gevolg. Grense wat deur God gestel is, word uitgevee, en vergrype word gesien as menslike vryheid, en die saamwees van jongmense voor die huwelik het 'n roekelose losbandigheid geword.
Die Chrisíen-Afrikanerjongmens wat sy lewe in alle fasette wil laat belig deur die verlossingsglans van sy lewenslig, Jesus Christus, gee homself rekenskap ook van die Christelike verhouding tussen die verskillende geslagte.
*Die Christen-Afrikanerjeug moet meer aandag gee aan spontane groepsverkeer tussen geslagte. Waar is die oorspronklikheid van Christen-Afrikanerjongmense om meer aantreklike uitstappies (i.p.v. uitslapies) en spel- en geselsaande te reël?
*Dit is een van die mees ongesonde tekens van die jeuglewe as kameraadskaplike verkeer tussen jongmense nie meer in die smaak val nie en voorbarige kysery vroeg reeds geïsoleerde groepe tot gevolg het.
* Jongmans moet allereers onthou dat hulle mans is wie se manlikheid in verantwoordelikheid en nie in roekeloosheid lê nie. Meisies moet weer onthou dat hulle in die eerste instansie bedoel is as vrou en moeder wie se goeie reg dit is om te droom oor 'n huwelik, maar wie se lewe nie totaal misluk as sy nie trou nie.
*Omdat die posisie van die jongmeisie moeilik is in die samelewing, omdat haar taak dié is van wag, moet die jongmans nie hul posisie uitbuit en die vroulike geslag as grootwild-jagveld beskou nie. Die meisie moet weer onthou dat die grootste ramp wat 'n vrou kan tref 'n mislukte huwelik en nie die ongetroude staat is nie - róók liewer twak (hoe afkeurenswaardig dit ook al is) as wat jy met 'n twak tróú.
*Die jongman moet weet dat die verliefde meisie siende blind en soms doof en dikwels dwaas is in haar heldeverering vir hom - wees daarom 'n held. Die jongmeisie moet egter kan onderskei tussen 'n held en 'n breker. Ek bedoel, 'n hartebreker sal sonder huiwering jóúne ook breek.
*Die jongman moet weet dat 'n prikkelpop, 'n sekskat of 'n kwaadkat 'n potensiële bloedsuier of 'n tierwyfie kan wees. Terwyl die laventeljonnie weer kwalik 'n jongmeisie beskermd kan laat voel.

*Die jongman moet onthou dat die meisie van sy keuse waarskynlik die moeder van sy nageslag gaan wees. Daarom is dit nie net fladderende ooglede wat tel nie, maar ook deursettingsvermoë, offersin, lewensbeskouing en godsdienssin. Die jongmeisie moet weer waak teen die jongman wat net van sy eie wonderlike hoedanighede en sy geld praat - want dit is gewoonlik eers in die huwelik dat jy sal agterkom of hyself geld werd is.
*Die jongman wat 'n jongmeisie as 'n blote vryding beskou - al is sy ook hoe bedrewe in die kuns - eksperimenteer met menselewens en saboteer die beeld van God. Die jongmeisie wat weer al die tyd die krag van die jongman wil opeis in verterende jaloesie moet liewer 'n papegaai aanskaf - 'n man deug net nie as kouvoël nie.
*'n Gespierde liggaam is mooi maar nooit sonder die reguit kyk wat van inbors getuig nie. En teen 'n kyfende vrou het die wyse Salomo al gewaarsku.
*Die jongman moet goed dink oor sy keuse tussen die kansel en die hasepad as die jongmeisie hom met geweld en sonder konsiderasie wil aankeer. As 'n besope jongman weer sy opwagting by jou as meisie maak, stuur hom na die duiwel - voordat hy in elk geval daar kom en jou dalk saamneem.
*Moenie vryerig en klouerig in die openbaar wees en so 'n naarmakende aangeleentheid maak van die mooi dinge van die lewe nie. Hy wat van jou verwag om geslagtelike toegewings te maak om jou liefde te bewys, moet 'n verklarende woordeboek vir sy verjaarsdag kry - dit sal hom help om uit te vind wat liefde werklik is.
*Hoewel dit jongmense se voorreg is om soms alleen te wees, moet daar nie te laat en te veel opgesit word nie - donkerwerk is konkelwerk. En, vroeg ryp word vroeg...
As ons na voorafgaande kyk moet ons nie die indruk kry dat die verhoudingslewe van die jongmens 'n wettiese lewe van moets en moenies is nie. Maar die Christen-Afrikanerjongmens moet onthou dat terwyl hy met blymoedigheid en vrolikheid en lewenslus die lewe geniet, hy nie meer leef in die tyd van die sisrok agter die onderdeur nie, maar in die tyd van die terrasrok agterop die bromponie.
En dit vra groter verantwoordelikheid.

