Wie sou waag om 'n klein seuntjie met 'n propgeweer na ons landsgrense te stuur met die opdrag: gaan veg teen die terroriste? Ons weet almal dat sy kanse op oorlewing baie skraal is. Maar terwyl ons gesteld is daarop dat ons soldate goed opgelei moet word in die opspoor van landmyne, hantering van outomatiese wapens en die lees van kaarte om hul weg te vind, gee so min Christen-Afrikanerjongmense om dat hulle kultureel vermink word op die landmynpad waarop ons elke dag loop.
En nou is dit nie so 'n maklike taak om kulturele terrorisme te beveg nie. Want kultuur, het ons reeds gesien, sluit die ganse lewe in. Daarom moet die kulturele vegter bedag daarop wees dat hy met elke lewensaktiwiteit op geplante landmyne kan trap.
Nou moet ons dit hier baie duidelik stel dat die Christen-Afrikanerjongmens nie 'n ketterjagter is wat net altyd snuffel en soek na gevare en bedreigings en sondes nie. Dit kan lei tot 'n sieklike lewensingesteldheid wat ander naderhand laat wonder of jy nie genot put uit al die sonde en verkeerde wat jy bestudeer en uitwys nie. Die positiewe taak van die Christen-Afrikanerjongmens om te bou aan ons kultuurerfenis, is veels te groot om deur 'n negatiewe lewenshouding belemmer te word.
Aangesien ons egter nie die een moet doen terwyl ons die ander nalaat nie, gaan ons kortliks probeer wys op die aard van hierdie landmyne op ons kultuurpad - wat eintlik niks anders as kultuurmoordenaars is nie.

Hulle is alledaagse verskynsels.
Ons leef saam met hulle, maar meesal teer hulle op ons.
Dikwels geniet ons hulle.
Kom ons bewandel die noordgrensbosse van ons kultuurlewe en soek in die voetpaadjie na verdagte verskynsels.
Ons vind o.a. die volgende:
OMGEWINGSBESOEDELING
Dit gaan by hierdie kulturele landmyn nie om die talle jongmense wat lyk soos bewegende omgewingsbesoedelingeenhede nie. Dit gaan om 'n wêreldnood wat die mens geskep het met 'n traak-my-nie-agtige houding teenoor sy aardse tuiste.
Want dit moet ons goed onthou: ons kultuurlewe hang nie spookagtig in die lug nie. Kultuur is prakties en konkreet - dit speel af in ons vaderland en daarom is ons omgewing ten nouste verweef met, en vorm deel van ons kultuur. Die kultuur van 'n volk is in baie opsigte afhanklik van sy omgewing en die kultuur gee gestalte aan die omgewing.
Maar nou lyk rusplekke langs die pad in ons vaderland dikwels soos munisipale ashope, en rugbypaviljoene (na 'n wedstryd) en inryteaters (na 'n vertoning) lyk soos komposhope.
Die bromfiets se enjin hoef nie by die stopstraat tot die maksimum rewolusies opgejaag te word nie - dit skep geraasbesoedeling en lugbesoedeling met die oormatige uitlaatgasse.
Die jongmense wat iemand iets in die straat sien weggooi en dit self optel en in 'n vuillismandjie gooi, se daad sal tot die morsjors se beskaming en sy vaderland se eer strek.
ONDERSKATTING VAN DIE WAARDE VAN KENNIS
Dit is goed en mooi as 'n jongmens die name ken van elke lid van die Springbokspan. Maar word kennis van die name van lede van die Kabinet ook so hoog aangeslaan? Is jongmense ook gesteld op kennis van die name van diegene wat 'n helderol in ons volksverlede gespeel het?
Dié kennis is terloops nie in f otoverhale te vind nie.
Ken jongmense party-politieke verskille, hul kerk se leerstellinge, hul eie identiteit?
Oorbekend is die uitdrukking dat kennis mag is. Dit is ook die verdedigingsmag wat die jongmens verstandelik bewapen in die akademiese slagveld waar Neutraliteit, Openheid en Vryheid van denke, alreeds 'n verminkte massa van ontwortelde studente agtergelaat het. Maar dit is nie genoeg om maar net kennis te versamel nie. Die versamelde kennis se waarde en waarheidsgehalte moet ook bepaal word. En die enigste waarheidsmaatstaf is dié Waarheid, Jesus Christus.
SOSIALE ONBEHOLPENHEID
Kan Afrikanerjongmense hulself nog vermaak, of moet hulle vermaak word?
LEWENSPASSIWITEIT
Stel jongmense nog belang om betrokke te raak by belangrike sake of is hulle dikwels passiewe toeskouers met volop kritiek?
VERHOUDINGSAFSYDIGHEID
Is dit nie dikwels dieselfde jongmense wat skeltaal teenoor ander rassiges gebruik, wat self nie in staat is tot selfwerksaamheid nie?
AKKOMMODASIE-GEES
Hoeveel jongmense gee nie in hulle lewens huisvesting aan soveel uiteenlopende standpunte en lewensrigtings dat hulle na 'n goedkoop losieshuis lyk nie?
PANEELKLOP-KUNSSMAAK
Het jongmense nog kunsgevoel of verwar hulle dit met die lawaai van paneelkloppers?
WANHOOP EN NOODHULP-GELOOF
Te veel jongmense in die krag van hul jeug roep morbied uit: die lewe is doelloos - ons het in die land nie eintlik hoop op voortbestaan nie - ons is eintlik maar net besig met 'n uitstelling van die teregstelling.
En so sou die kultureel-terroristiese landmyne uitgewys kan word in die ganse veld van die jongmens se lewe. Nie een is op sigself vreeslik ernstig nie. Maar dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. En al hierdie sake saam kan 'n ramp tot gevolg hê.
As die Christen-Afrikanerjongmens die kulturele aanslae wil oorleef sal hy sy Christelike weerbaarheid moet ondersoek.
En dan sal hy helder en duidelik, soos die oggendsinjaal, sy sluimerende medejongmense moet wakkerskud met sy helder en duidelike getuienis. Hy sal die hoefyster moet vorm wat die mank perd van die Westerse beskawing tot by sy Godbepaalde eindbestemming dra.
Die weerbare jongmens weet hy is meer as vlees en been - ons volkwees wentel om hom heen.
Daarom moet hy katvoet loop op die landmynpad.

