| Deon Hugo-Reeks :Website Builder |
| 1-Op die Drumpel :2-Gaudeamus Igitur :3-die Werkende Jongmens |
| Vooraf :Die glasprisma van 'n reënbooglewe :Alles vir die Afrikanervolk, die Afrikanervolk vir Christus :Die stam waaruit jy gegroei het :Katvoetloop op die landmynpad :Die 61-kilometer-per-uur leefwyse :Verantwoordelike onverantwoordelikheid :Met 'n terrasrok agterop 'n bromponie :Ledigheid is die duiwel se :val-nou-en-betaal-later-skema :Skoubulle en springmielies :"Vrees God en hou jou kruit droog" |
| Web Title |
|
Die mens - beheer deur Christus of 'n afgod, gedra deur 'n bepaalde beskouing van die lewe, gebonde aan sy volksverband - is 'n skepper. En dit wat elke mens skep, word kultuur genoem. Want, kultuur is alles wat gebeur in die volle stroom van die mens se lewe. Kultuur is die totaal van die mens se aardse aktiwiteite. Kultuur is alles wat deur die mens tot stand gebring word. Kultuur is nie 'n statussimbool net vir sommige mense nie - kultuur is die gewone dinge van elke dag. Kultuur word nie gevorm deur deftige toeskouers op 6 April en 31 Mei en 10 Oktober en 16 Desember nie, maar deur arbeiders wat bereid is om die kulturele kombuiswerk te doen elke dag van die week. Kultuur is die gemeenskaplike besit van 'n volk en van elke jongmens van daardie volk. Kultuur is alles van skoffelwerk in die tuin tot die ruiker rooi angeliere op háár verjaardag, van duiwehok-bou tot vlieërs beheer, van matriek-serenades tot kunswedstryd-kore, van toktokkie speel tot konyne-slag in die biologieklas, van 'n loesing in die kantoor tot oorwinning op die rugbyveld, van die skietgebed in die eksamen tot eerbiedige stilte in die erediens. As elke mens kultuur skep, dan ook die Christen-Afrikaner. En met sy Christelik-nasionale benadering skep hy 'n ander kultuur as die Engelsman of Fransman of Duitser of Zoeloe of Tswana. Want hy skep die Christelik-Afrikaanse kultuur. Ons sou ook kon sê hy skep die Christelik-Afrikaanse beskawing. Want om kultuur te skep beteken om af te werk, om te skaaf, om te beskaaf. Daar is baie kulture en baie beskawings wat groter prestasies gelewer het en in 'n sekere sin belangriker is as ons Christelik-Afrikaanse kultuur en beskawing. Want ons kultuur en beskawing is nie volmaak nie. Ons het nog altyd diegene gehad wat geleef het asof God nie bestaan nie en hulle gedra het soos mense wat in 'n emmer aangemaak is. Ons het nog altyd diegene gehad wat met hulle hensopper-hande in die lug gestaan het wanneer hulle hul kultuur-erfenis moes verdedig. Maar, die Christelik-Afrikaanse kultuur en beskawing behoort aan ons en ons behoort aan hom, en daarom is hy vir ons belangrik. En daarom kyk ons nie heeldag na sy littekens nie.
Hoe lyk die Christelik-Afrikaanse beskawing van naby - is dit darem die moeite werd om kultureel daaraan te bou? *Ek dink dat ons met Christelik-Afrikaanse beskawing te doen het wanneer 'n onderwyser in die klas die skepping van God eerbiedig en nie sy oupagrootjie onder die ape soek nie. Want Christelike beskawing beteken dat daar nie 'n spanning en 'n radikale verskil tussen my hoof en my hart, my denke en my geloof, my wetenskap en my godsdiens sal wees nie. *'n Verdere element van Christelik-Afrikaanse beskawing is dat wanneer ons volkslied, die Stem van Suid-Afrika gespeel word, die hoendervleis soos koue water langs jou rugstring af hardloop. Want Christelike beskawing beteken volkstrots en eerbied vir volksimbole. *Ook is dit deel van die Christelik-Afrikaanse beskawing wanneer jy vriende op doodgewone dinge soos springmielies, biltong en boerbeskuit só kan trakteer dat hulle gladnie lus het om huis toe te gaan nie. Want die Christelike beskawing is spontaan sosiaal, aangenaam in die omgang en gasvry teenoor die medemens. *Christelik-Afrikaanse beskawing beteken dat jy nie ter wille van 'n sent wat jy kan spaar - al is die sakgeld maar skraps - net by Uitlanders sal koop, en net 'n sent sal hou vir die kollektebordjie nie. Want die Christelike beskawing maak van elke mens in die hantering van sy geld 'n „winkelklerk" van God en 'n „bankbestuurder" van sy volk. *Die Christelik-Afrikaanse beskawing kan saam met ons kunstenaars sprakeloos staan voor die skoonheid van Gods skepping en die ryke bekoring van ons vaderland - sonder om deur slaapkamersleutelgate te loer om stof te kry vir die letterkunde, toneel, film en ander kunsvorme. Want die Christelike beskawing eerbiedig die beginsels van sy volk en probeer om ook in die kuns die skepping van God te huldig onder die Koningskap van Christus. *Christelik-Afrikaanse beskawing kan bewoë raak oor 'n mede-Afrikaner wat meer tuis voel by 'n „session" as in die kerk, meer bekoor word deur verdowingsmiddels as deur die Evangelie, en makliker kan gesels oor sy sekservarings as oor sy volk. Want Christelike beskawing weet wat naasteliefde beteken en sien met hulpvaardigheid sy medemens raak. Is so 'n beskawing nie die moeite werd om al jou kragte aan te wy nie? As ons dan Christelik-Afrikaanse kultuur wil inspan in diens van die Christelik-Afrikaanse beskawing moet ons elkeen met oorgawe begin skaaf en saag en vyl by ons eie lewenswerksbank. Natuurlik sien ons nie neer op ander kulture nie, maar gun hulle hul anderse kultuur - soos ons ook ons eie vir onsself wil hê. Dit is, soos iemand tereg geskryf het, 'n wonder om 'n kultuurtuiste te hê waar jy hoort - 'n aanlêplek en ankerplek wat joune is. Dit wat jou 'n vastrapplek gee soos die wegspringblokke van 'n naelloper. A1 is jy waar ook al in die wêreld, daar is iewers agter jou 'n plek, 'n stam waarvandaan jy uitgegoei het. Wee die mens wat losgekap is van hierdie stam en oral maar aanplak soos voëlent. |
|
Laaste keer geredigeer: 2008 / Geplaas: 31 Maart 2017 Op die Drumpel ingevoeg 19 Okt 2018, Geplaas: |
